stɔːri #8 // Permanent Record // Kaapstad

Share This Stɔːri

Share on facebook
Share on whatsapp
Share on twitter

Permanent Record ‘n platemaatskappy in Kaapstad se ontstaan is gegrond in die etos van punk. Doen dit self. Eienaar Rouleaux van der Merwe versamel al vir jare plate vir sy draaitafel en het in 2014 besluit om ‘n label te begin. Permanent Record het in sy ses skamele bestaansjare al ‘n lang lys indrukwekkende kunstenaars op plaat vrygestel. Alles van metal tot pop, punk en jazz.

Wat het jou laat besluit om ‘n Permanent Record te begin

Musiek luister was nog altyd ‘n stokperdjie vir my. Ek geniet veral die verskillende formate waarop ‘n mens daarna kan luister. My belangstelling in vinyl het oor die jare onstaan. Tussen die 90’s en 2014 was daar omtrent geen manier om musiek van kontemporêre Suid Afrikaanse kunstenaars op vinyl te kry nie. Daar was hier en daar iets beskikbaar, maar jy kon amper seker wees dat geen van jou gunsteling local bands se albums op vinyl bestaan nie.


Ek en my vriend Wentzel, van Roastin’ Records, deel die passie vir vinyl en het vroeg in 2014 besluit om saam ‘n plaat vir Wildernessking (RR001) vry te stel. Dit was ‘n 10” EP getiteld ‘The Devil Within’. Hierdie 100 kopie vrystelling het redelik vinnig verkoop en van daar af het dinge net aangehou. Ek het Permanent Record in Desember 2014 begin.

Vertel ons van die gebroke sirkel wat jou logo uitmaak?

Toe ek besluit het om my eie label te begin het ek geweet dat ek iets baie eenvoudig met die logo wou doen. ‘n Sirkel. Die fisiese vorm van ‘n plaat (record), ook bekend as ‘vinyl’ onder diegene wat na musiek op ‘n draaitafel luister.


Violent Femmes se ‘Kiss Off’ het ‘n line ‘I hope you know that this will go down on your Permanent Record.’ Soos die Etlap kaart wat onderwysers gebruik het om skoolkinders mee bang te maak. ‘n Permanente rekord van elke liewe misstap in jou twaalf jaar op skool. Iets wat jou sal volg vir die res van jou lewe. En dis hoe Permanent Record met die gebreekte sirkel logo lewe gekry het.

Wie is almal op jou lys van kunstenaars?

Slashdogs, Francois van Coke, Van Coke Kartel, Wildernessking, Sakawa Boys, KOBUS!, Lucy Kruger & The Lost Boys, Metode & Tegniek, Krushed & Sorted, Zoo Lake, Carlo Mombelli, Medicine Boy, Dangerfields, Black Math, Fokofpolisiekar en BLK JKS. Ek het ook ’n deurlopende verhouding met Shifty Records waar ons fokus op die heruitreiking van selektiewe kunstenaars.

Ons het reeds in 2019 André Letoit (Koos Kombuis) se 1987 debuut kasset vir die eerste keer op plaat laat druk.

Permanent Record vrystellings.

Wat was die moeilikste plaat om vry te stel tot dusver en hoekom?

Dis nogal moeilik om te sê, want elke vrystelling het aspekte wat uniek en uitdagend is. Daar is wel ‘n paar wat uitstaan. Die 2018 hervrystelling van African Dope Records se eerste album ‘Krushed & Sorted – Acid™ Made Me Do It’ het omtrent ‘n jaar se aktiewe werk geneem om te voltooi.

Promosie kunswerk.

Oorspronklike en herontwerpte album kunswerk.

Daar was probleme met die oorspronklike mix wat die klank ingenieurs by die drukwerf grys hare gegee het. Om die oorspronklike kunswerk te herontwerp was ook ‘n uitdaging. Een van die algemene probleme van hervrystellings is die feit dat die kunswerk van die grond af op herontwerp moet word. Daar is ‘n baie spesifieke Pentium1 soundcard op die gatefold sleeve te sien. Dit was baie moeilik om te identifiseer en ek het maande lank rondgevra met geen resultate. Nadat ek op ‘n rekenaar programering subreddit informasie gekry het kon ek uiteindelik die kaart identifiseer en laat afneem.

Daar was ook ‘n stresvolle oomblik, want die mees bekende snit van die album, King of The Swingers’ gebruik ‘n oorspronklike Louis Prima sample uit die Disney animasie, The Jungle Book. Ek het die regte daarvoor probeer kry, maar Disney wou iets belaglik soos $75K daarvoor hê. Ek het net besluit “fok dit” ek gaan voortgaan met die uitreiking van die plaat sonder die nodige toestemming. Gewoonlik is die drukwerf streng oor kopiereg. Daar is dokumentasie wat voltooi moet word as ‘n album materiaal insluit wat nie oorsponlik deur die album se musiek kunstenaar geskryf is nie. Ek het die snit afgehou tot op die laaste minuut voor druktyd en ‘n versoek ingesit om die tracklisting en kunswerk te update. Dit het deurgegaan en die plate is gedruk. Ek het tot nou toe nog nie ‘n oproep van Disney ontvang nie.

As jy oor kon begin wat sou jy anders doen?

Niks.

Is daar vrystellings waarna ons binnekort kan uitsien?

Medicine Boy se derde album ‘Take Me With You When You Disappear’ is onlangs vrygestel. Dit is hul laaste album en ek is geweldig trots daarop dat Permanent Record deel in die veldtog en verspreiding van hierdie vinyl. In my beskeie opinie is hierdie hul beste werk. Die album is swaarder en meer intensief as vorige vrystellings, maar die musiek behou beide die helder lig en diep donker nuanse waarvoor die groep bekend is.

BLK JKS se eerste album in 12 jaar is ook onlangs vrygestel. Slegs 100 kopieë van Abantu / Before Humans is op Jeugdag (16 Junie 2020) in Suid Afrika beskikbaar gemaak. BLK JKS werk huidiglik saam met ‘n groter internasionale platemaatskappy om breër uitreiking in Januarie 2021 moontlik te maak.

Ek werk ook tans saam met Shifty Records aan ‘n paar verskillende heruitrykings wat ons hopelik steeds hierdie jaar kan laat druk. Hierdie vrystellings is ‘n langtermyn projek wat die kunstenaar James Phillips se verskeie musiek projekte (Bernoldus Niemand, Cherry Faced Lurchers, Corporal Punishment ens.) asook Koos Kombuis se Niemandsland en die Gerefomermeerde Blues Band se Eet Kreef insluit.

Wat is jou waardevolste plaat en waar het jy dit bekom?

Ek het al oor die jare titels opgetel wat definitief ‘n paar Rand sal kan werf, maar ek is regtig nie getraak oor die potensiële finansiële wins van waardevolle plate nie. Vir my gaan dit meer daaroor om die musiek te geniet.

Maar met dit gesê, het daar al in die verlede interresante dinge gebeur wanneer dit by versamelaars kom wat bereid is om hoë pryse vir sekere plate te betaal.

Ek het eenkeer op Amazon ‘n album van die Sweedse band Ghost gekoop. Dit was spotgoedkoop vir die spesifieke vrystelling en ek het die plaat opgewonde ingevoer. Met die oopmaak het ek terleurstellend agtergekom dat daar ‘n fout was. Dit was die omslag van die album wat ek bestel het, maar met die verkeerde Ghost plaat binne-in. Ek het die album vir jare in my rak gelos en nooit daarna geluister nie. Op ‘n dag het ek besluit om dit op ebay te sit met die storie agter die misdruk van die plaat. Kort daarna het iemand my gekontak en ek het die plaat aan die versamelaar vir $500 verkoop.

Wat draai tans op jou plate speler?

Ek geniet op die oomblik die nuwe HUM album (hul eerste in 22 jaar). Ek luister ook tans die nuwe Bob Dylan album. Townes van Zandt, Low, Yo La Tengo, Moon Duo (Stars Are The Light), Jeff the Brotherhood (veral die laaste album, Magick Songs), Mother Earth’s Plantasia, Ween, Orville Peck, AA Bondy, Boards of Canada, GYBE en diegene se musiek maak gereeld ‘n verskyning. My luister patrone verander met die seisoene, en ek kan met sekerheid bevestig die winter is op die oomblik hier.

In terme van Suid-Afrikaanse musiek, spandeer ek tyd met die toekomstige Shifty Records hervrystellings. Ook Bengeula se nuwe album (Are You Awake?). Ek geniet ook Julia Robert se nuwe EP ‘Late Stage Dream’. Sold Ash se onlangse EP. Bongeziwe Mabandla se nuwe album. Guy Buttery se onlangse album en EP. Ek luister ook natuurlik gereeld na die Permanent Record vrystellings Medicine Boy TMWYWYD en BLK JKS Abantu/ Before Humans.

Permanent Record

Permanent Record is an independent and boutique record label from Cape Town. Expect the best and most diverse local music when going through the Permanent Record Collection.

©2020 stɔːri | another creative collective